top of page
  • Writer's pictureMBF

MAFUBE: EINDE VAN BEURTKRAG?

Rural Free State (RFS), die elektrisiteitsverskaffer wat die Mafube gemeenskap in die Noord-Oos Vrystaat bedien, het pas sy planne bekend gestel om uiteindelik die hele munisipale omgewing “beurtkrag-vry” te maak – ‘n eerste volhoubare poging in Suid Afrika.

 

‘n Gemeenskapsprojek, waar aktiewe deelname en inkoop deur die gemeenskap die effek van beurtkrag vir almal kan laat verdwyn! 



Die aanloop: As deel van ‘n gemeenskapsprojek, waaruit die hele Mafube voordeel sal trek, het RFS in samewerking met plaaslike boere en besigheidseienaars, ‘n sonplaas aangelê om hul nuwe “agri village” ontwikkeling van krag te voorsien, maar wat intussen reeds genoegsame krag opwek om byna die hele Frankfort van elektrisiteit te voorsien. Daar is ook reeds ‘n 980 KVA sonplaas in Villiers omgewing opgerig wat krag aan pompe en spilpunte voorsien en wat ook die nuwe beplande groente hidroponika produksie projek op die plaas gaan voorsien. Daar word ook gekyk dat surplus energie aan die dorp uitgestuur word solank daar surplus energie is. Daar is ook ‘n 480 KVA sonplaas in Tweeling wat krag aan Tweeling voorsien, asook die beplande Tweeling “agri village” prosesering area. Eskom het einde 2023 ingestem dat RFS die impak van beurtkrag in ons omgewing kan verlig, mits ‘n spesifieke vorm van krag gebruik word as aanvulling tot die las, wanneer Eskom ‘n las vermindering vereis. RFS het dadelik werk gemaak daarvan en reeds in November 2023 belê in hierdie sogenaamde “op-aanvraag versendbare krag”, wat basies dui op batterye en kragopwekkers. Daar was stilweg begin met ‘n oefenlopie in die sakekern van Frankfort, om verbruikers stelselmatig van beurtkrag af te haal en hulle 24/7 van elektrisiteit te voorsien. Nadat die sakekern suksesvolle resultate gewys het, is die eerste residensiële substasie, die Skoulaan-substasie ook aangepak. Daar word beplan om die projek, een substasie op ‘n slag aan te pak. Indien die gemeenskap saamstaan en inkoop, kan Frankfort beurtkrag vry wees teen September. Villiers en Tweeling gaan ook eersdaags volg al is Frankfort nog nie afgehandel nie.

 

Resultate bereik: Tot dusver is die resultate uitstekend, vanaf 7 November 2023 tot op hede (1 Maart) het die verbruikers wat deur die Stadsaal-substasie gevoed word 114 dae beurtkrag vrye dae en Skoulaan-substasie vanaf 28 Desember tot op hede (1 Maart 2024) het verbruikers die voordeel geniet van 64 beurtkrag-vrye dae. Onder die gewone omstandighede sou dit beteken het dat hulle in die omgewing van 298 en 242 ure onderskeidelik, oftewel meer as 12 en amper 10 volle dae van beurtkrag respektiewelik vrygespring het. Die positiewe impak op veral kleiner besighede is enorm: verhoogde produktiwiteit en beter dienslewering aan hul kliënte.  Alles moontlik gemaak deur die beskikbare versendbare krag wat ingespan was om die las op Eskom te verminder soos aangevra.

 

Werk gedoen: RFS in die proses om die infrastuktuur in plek te kry om aan al vier Mafube-dorpe, naamlik Frankfort, Villiers, Tweeling en Cornelia, hierdie verligting van beurtkrag te bied, en sal dit kan implimenteer indien die gemeenskap saamwerk. Wanneer die gemeenskap inkoop in die “alternatiewe” opwekkingsprogram, is die realiteit is dat beurtkrag binne ‘n paar maande in Mafube iets van die verlede kan wees. Die harde werk is reeds gedoen. Die deurslaggewende faktor is dat aktiewe gemeenskapsdeelname nodig is.

 

Floreer weer: In samewerking met die Mafube Besigheidsforum (MBF) sal daar nou voortgegaan word om inwoners en besighede in te lig oor hoe om betrokke te raak by hierdie gemeenskapsprojek. Dit gaan oor meer as om net beurtkrag-vry te wees – ons groter doelwit is nie net om te oorleef nie maar om ‘n omgewing te skep waarin besighede kan floreer. Dit sal meer beleggings na ons streek lok om sodoende meer werksgeleenthede te skep.

 

Hierdie gemeenskapsprojek is uitvoerbaar en volhoubaar met tasbare resultate; dit volg na die opgradering van verspreidingsnetwerke en nuwe netwerke wat gebou is, nl. sonkragplase by Frankfort, Tweeling en Villiers wat reeds in werking is, en die op-aanvraag versendbare kragbronne wat uitgerol word. Inwoners en besigheidseienaars sal voortdurend op hoogte gehou van die vordering.

 

Vir verdere inligting en deelname epos info@mafubebf.org of Whatsapp/Skakel: 079 145 4295

341 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page